Land (Maize)										Afrikaans

Hoe kry ek toegang tot grond?

Instructions: 

Folio strap: Grondherverdeling

Byline: Jane McPherson, programbestuurder van die Graan SA Ontwikkelingsprogram vir Produsente



Een van die mees gereelde versoeke wat ons kry is – “Ek wil grond hê, kan jy my help?” Die eerste antwoord is “Nee”. Die Graan SA Ontwikkelingsprogram vir Produsente is nie betrokke daarby om mense te help om toegang tot grond te verkry nie.

As ons dit sou doen, sou daar nie tyd wees vir enigiets anders nie, omdat byna elkeen daarvan droom om grond te hê en ‘n produsent te wees. In ons program ondersteun ons mense wat alreeds toegang tot grond en toerusting het.

Die nuwe Departement van Grondsake het na 1994 begin met ‘n grondhervormingsprogram deur verskillende programme. Vir hierdie bespreking sal ons bly by grondhervorming deur herverdeling en nie grondeise bespreek nie. Onthou dat ons program bemagtigde kommersiële produsente wil vestig en daarom is ons fokus om die grond in produksie te kry deur ‘n nuwe produsent by te staan, eerder as om dié te help wat net grond wil hê om ander redes. 

Skikkings en Aankoop Toelaag (SLAG) 

Die eerste program van Grondsake was die Skikkings en Aankoop Toelaag (SLAG). Dit was reg in lyn met behuising waar elke huishouding ‘n toelaag van R15 000 kon ontvang. Ongelukkig is daar geen plaas vir R15 000 te koop nie, dus moes mense wat grond wou koop, groepe vorm en die plaas saam koop. 

Daar is baie redes hoekom hierdie stelsel nie gewerk het nie:

Groepe mense veroorsaak konflik, tensy hulle dieselfde doel het; 

Sommige begunstigdes het onrealistiese verwagting van boerdery gehad en geglo dat boerdery ‘n vinnige manier na geluk en rykdom was;

Die begunstigdes het min, of geen boerdery -en bestuurservaring gehad. Indien jy op ‘n plaas gewerk het, het jy nie noodwendig ondervinding om ‘n onafhanklike produsent te wees nie;

Daar was geen voorsiening vir kapitaal en ontwikkeling van infrastruktuur nie;

Daar was min of geen ondersteuning van die Departement van Landbou nie;

Daar was min of geen opleiding nie;

Nie al die begunstigdes was ewe veel geïnteresseerd of toegewyd om ‘n sukses van die boerdery te maak nie;

Daar was geen kriteria vir die keuse van begunstigdes nie; en

Daar was nie van begunstigdes verwag om op die plaas te bly nie.



Grondverdeling vir Landbou Ontwikkeling (LRAD) 

Die Departement van Grondsake het besef dat hierdie stelsel nie baie goed werk nie en is vervang deur die Grondverdeling vir Landbou Ontwikkeling. Dit was ‘n verbetering op SLAG:

Dit was ‘n individuele toelaag (nie ‘n huishoudelike toelaag nie) wat beteken dat baie lede van een familie wat ouer as 18 jaar was vir die toelaag kon kwalifiseer;

Die minimum toelaag was R20 000 (wat meer was as die R15 000 SLAG toelaag);

Eie kapitaal kon aangevul word deur ‘n verhoogde toelaag (tot ‘n maksimum van ‘n R100 000 toelaag vir ‘n eie bydrae van R400 000). Dit was ‘n manier om mense te lok wat alreeds kapitaal het (gewoonlik deur ander besighede). 



Baie van hierdie skemas het ook misluk as gevolg van die volgende redes:

Begunstigdes is steeds aangemoedig om groepe te vorm, omdat die individuele toelaag steeds nie genoeg was om ‘n plaas te koop nie;

Begunstigdes se verwagtinge was steeds onrealisties;

Begunstigdes het min of geen boerdery -en bestuurservaring gehad;

Daar was min voorsiening vir kapitaal en ontwikkeling van infrastruktuur;

Daar was min of geen bystand van die Departement van Landbou nie;

Daar was min of geen toepaslike opleiding nie;

Nie al die begunstigdes het belang gestel en was toegewyd om ‘n sukses van die plaas te maak nie;

Ongelukkig was daar steeds geen kriteria vir die keuse van begunstigdes nie; en

Daar was nie van begunstigdes verwag om op die plaas te bly nie.



Pro-aktiewe Grond Aankoopskema (PLAS) 

Omdat hierdie stelsel steeds nie suksesvol was nie, het die Departement van Grondsake weer eens ‘n nuwe skema probeer – Pro-aktiewe Grond Hervormingskema. Hierdie skema moes in teorie begunstigdes voorsien van ‘n geleentheid om hulself te bewys, voordat hulle ‘n plaas kon ontvang. 



PLAS werk op ‘n stelsel waardeur die regering ‘n plaas koop vir herverdeling. Hierdie plaas word geadverteer en mense wat belanggestel het, moes motiveer waarom hulle ‘n geleentheid gegun moes word om te boer. Die periode was vir drie jaar, waarna die persoon die plaas kon koop indien hy/sy hulself bewys het, of hulle sou vervang word deur ‘n ander persoon of aspirantprodusent. Hierdie stelsel van grond hervorming het ‘n nuwe stel probleme gehad. Baie waarvan dieselfde as die vorige probleme, maar sommiges is nuut: 

Begunstigdes se verwagtinge was dikwels steeds onrealisties;

Daar is nie van begunstigdes verwag om op die plaas te bly nie;

Begunstigdes het min of geen boerdery -en bestuurservaring;

Daar is steeds geen kriteria vir die keuse van begunstigdes nie;

Min voorsiening is gemaak vir kapitaal en ontwikkeling van infrastruktuur;

Daar is min of geen ondersteuning van die Departement van Landbou;

Daar is min of geen toepaslike opleiding nie;

Die persone neem ‘n lopende saak oor, maar baie dikwels het hulle geen idee oor bedrywighede op die plaas nie. Hulle het geen ervaring van lewende hawe, gewasse en meganisasie op die plaas nie en hulle misluk totaal.

In sommige gevalle is die trekkers en toerusting op die plaas in ‘n baie swak toestand of selfs gebreek. Sonder die kennis en ervaring en sonder geld benodig vir die herstelwerk, is die persoon nie in staat om die toerusting te gebruik nie.

Wanneer dit by gewasboerdery kom, is die koste per hektaar in die omgewing van R5 000. Indien ‘n produsent 200 hektaar wil plant (wat nie ‘n groot area is in terme van kommersiële produksie nie), beteken dit ‘n belegging van R1 000 000 net om die gewas in die grond te kry (dit sluit nie die geld in om die trekkers en implemente te diens en herstel nie). Die produsent besit nie die plaas nie en het geen vorige boerdery ervaring nie. Dit beteken dat hy nie toegang tot ‘n produksielening kan kry nie. Sonder ‘n produksielening kan hy nie die R1 000 000 hê wat vereis word om 200 hektaar te plant nie.

Kom ons neem aan dat die produsent die geld het om die trekkers en implemente te herstel en die gewas aan te plant. Sou dit wys wees om jou geld op grond en masjinerie te spandeer wat nie aan jou behoort nie?

Daar is verskillende implemente op ‘n plaas – ‘n ploeg, ‘n kontrasny-eg, ‘n skeurploeg, ‘n beitelploeg, ‘n krultandskoffel, ‘n rotovator, om maar net ‘n paar te noem. Sonder genoegsame ondervinding ken die produsent nie eers die verskil tussen al die implemente nie en sal heel moontlik nie weet hoe om dit te gebruik nie; en

Een van die klousules in die kontrak tussen die persoon en die Departement van Grondsake bepaal dat die grond nie aan ‘n kommersiële produsent herverhuur mag word of in ‘n ooreenkoms met ‘n ander produsent mag gaan om ‘n gewas te deel nie. Sonder ‘n produksielening en geen toelating om saam met iemand anders te boer nie, hoe gaan die produsent leer en in volle produksie kom? 



Uit die bogenoemde bespreking kan gesien word dat ons pogings tot grondhervorming baie uitdagings inhou. Baie van die probleme was nie voorsien nie en pogings om die landbousektor te hervorm het goeie bedoelings gehad.



Ons het ‘n baie hartseer en teleurstellende verlede. Ons moet egter feite in die oë kyk. Gedurende die vorige regering was landbou in die hande van die wittes en as gevolg daarvan moet ons die betrokkenheid van die kommersiële boerderysektor aanmoedig in ons pogings om die sektor te hervorm.



Suksesvolle grondhervorming benodig ‘n klompie dinge om saam te werk:

Die sektor moet winsgewend wees (soos nie die geval met graanboerdery nie);

Begunstigdes moet geselekteer en opgelei word;

Voldoende kapitaal moet beskikbaar wees vir produksie en ontwikkeling van infrastruktuur; 

Die kommoditeitsorganisasies moet betrokke wees by die ontwikkeling van produsente in hulle sektor; en

Regeringspogings moet gekoördineer word en die tydsberekening moet korrek wees.



Onsuksesvolle projekte

As gevolg van vorige beleid en programme is daar ‘n aantal projekte wat misluk het. Hulle het misluk as gevolg van ‘n aantal redes (soos bo genoem). Dit is heeltemal verstaanbaar dat die nuwe Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming hierdie projekte weer aan die gang sou wou kry en daardie grond terugkry in produksie, voordat hulle nuwe projekte aanpak.



Indien die vernuwing van hierdie projekte suksesvol is, is dit van die uiterste belang dat die oorsaak van die mislukking verstaan moet word – en dit is uniek vir elke probleem. Dit was té maklik om te sê dat die projekte misluk het as gevolg van ‘n tekort aan geld. Ja, in baie gevalle was ‘n tekort aan geld een van die probleme, maar om net geld in die projek te stort, sal niks oplos nie en sal nuwe konflik kweek, omdat begunstigdes wat belangstelling verloor het en die projek verlaat het, terug sal kom in die hoop om geld te kry van die hersiene projek. 



Ons moet:

Die werklike oorsaak van die mislukking ondersoek;

Die begunstigdes identifiseer wat werklik toegewyd is en wil boer;

Slegs begunstigdes ondersteun wat gewillig is om op die plaas te bly. Boerdery kan nie deeltyds gedoen word nie. Suksesvolle produsente bly op die grond en gee 100% van hulle tyd vir die boerdery;

Gebruik mense met ondervinding om te boer en ondersteun begunstigdes met ‘n werkbare plan om die plaas in produksie te kry; en

Sluit die begunstigdes in ‘n opleidings- en vaardigheidsontwikkelingsprogram wat bestuur word deur die kommoditeitsorganisasie van die plaaslike produsente unie om sodoende van die begin af nuwe produsente ingeskakel te kry in die kommersiële sektor.



Indien ons landboutransformasie werkbaar in Suid-Afrika wil kry, moet ons hande vat, leer om mekaar te vertrou, die sektor verenig en landbou help om sy regmatige plek in te neem as die hoeksteen van ons plattelandse ekonomie.

